Suid-Afrikaanse kunstenaars skitter by Herman
van Veen
Waarskynlik het niemand
voor die tyd presies geweet hoe dit sou uitwerk nie. Maar tydens Harlekijn en
de Zuid-Afrikaanse dagen, ’n Afrikaanse en Nederlandse kultuurfees op Herman
van Veen se landgoed in die bosse van Soest, het alles saamgewerk om die meer
as duisend besoekers wat afgelope naweek hulle pad na De Paltz gevind het, ’n
fantastiese ondervinding te gee.
In die eerste plek is De
Paltz met sy 19e-eeuse herehuis, beukelanings en grasvelde ’n
betowerende omgewing. En die weergode was genadig: heel naweek het die son
stralend geskyn, en eers tien minute ná die laaste klanke weggesterf het, het
’n verskriklike onweersbui losgebars.
Maar die belangrikste
was natuurlik die kunstenaars. Terwyl die program Vrydagaand en Saterdag
hoofsaaklik uit Nederlandse produksies bestaan het, het die Suid-Afrikaanse
kunstenaars van Saterdagaand af hulle opwagting gemaak. Een van die hoogtepunte
van die Nederlandse deel van die program was ’n heropvoering deur Herman van
Veen self van sy ikoniese kinderteatervoorstelling oor die dapper eend Alfred
Jodocus Kwak, op die dag af 40 jaar ná hy dié karaktertjie op 29 Augustus 1976
vir die allereerste keer ten tonele gevoer het. Die gehoor was van voor af
betower deur die pragtige taalgebruik en die uiters verfynde musikale verwerkings
in hierdie oënskynlik so eenvoudige storie.
Ná ’n intieme optrede
van die baie gewilde Nederlandse cabaretière Claudia de Breij het Luna Paige,
Coenie de Villiers en Anna Davel Saterdagaand namens die Suid-Afrikaners die
spits afgebyt. Al drie het hulle Nederlandse gehoor verstom met die skoonheid
van hul taal en hul enorme talent. Coenie de Villiers, wat ’n interessante
program gekies het vol verwysings na die Suid-Afrikaanse landskap, het getoon
dat hy in die Suid-Afrikaanse musiek van dieselfde statuur is as Herman van
Veen in Nederland.
Sondagmiddag het al die
aanwesige kunstenaars eers ’n aantal van hulle gunsteling gedigte voorgelees,
terwyl die besoekers sommer op stoeltjies in die lang gras onder die bome gesit
het. Daarna het Andries Bezuidenhout – singer-songwriter, digter en beeldende
kunstenaar, onder meer ook bekend as ‘Roof’ uit die Brixton Moord en Roof Orkes
– party toeskouers in trane gehad met sy diep, poëtiese tekste en sy
gevoelvolle en soms ironiese voordrag, en het Pops Mohamed – een van
Suid-Afrika se 21 Icons – die gehoor laat kennismaak met die inheemse
instrumente van die San uit die Kalahari, soos die kora en die duimklavier.
Tydens Harlekijn en de
Zuid-Afrikaanse dagen is ook …byvoorbeeld (Deel 1) bekendgestel, ’n versamel-cd bedoel om die Nederlandse
luisteraars vertroud te maak met die rykdom en diepte van die Afrikaanse
musiek. Al 20 kunstenaars op die cd was bereid om sonder vergoeding ’n opname
af te staan vir hierdie projek. Die cd is verpak in ’n fraai uitgevoerde boekie
met lirieke, toeligtings, ’n gedig van Herman van Veen en twee oorspronklike
kunswerke van Diek Grobler buitenop. Die opbrengs van dié projek gaan na die
Suid-Afrikaanse Teater Bystandsfonds.
Na ’n regte
Suid-Afrikaanse vleisbraai was dit die beurt aan Joshua na die Reën – wat as ’n
voltallige band die reis na Nederland gewaag het, inklusief twee jong babatjies.
Dié simpatieke jong kunstenaars het die gehoor omver geblaas met hulle dromerige
lirieke, interessante melodielyne en die energie van hulle opvoering.
Jannie du Toit het
spesiaal deurnag gevlieg om aan die fees te kon deelneem. Terwyl Jaconell
Mouton deurentyd daar was om die kunstenaars op die klavier te begelei, het
Jannie du Toit ook enkele nommers saam met die blinde Nederlandse pianis Bert
van den Brink gedoen, met wie hy in 2014 ’n Jules de Corte-program uitgevoer
het, sowel in Nederland as in Suid-Afrika. Veral ‘Die liefde’, geskryf deur
Christa Steyn, het die Nederlandse gehoor op sy voete gehad.
Die absolute finale was egter
in hande van Karin Hougaard, wat saam met Herman van Veen die drywende krag agter
hierdie fees was. Sy het nie sommer net ’n paar liedjies gesing nie. Sy het
kragte gebundel met Jaconell Mouton én met Pops Mohamed, en haar veelsydigheid
en volmaake vakvrouskap gewys as sangeres én aktrise.
Vir baie kunstenaars in
Suid-Afrika, soos reg rondom die wêreld, het Herman van Veen in sy loopbaan van
50 jaar uitgegroei tot ’n voorbeeld en ’n inspirasie. Nou was dit die
Suid-Afrikaners se beurt om te wys hoeveel talent en kwaliteit daar ook uit
Suid-Afrika kom. Karin Hougaard het op haar Facebook geskryf dat sy vanaand “so
ongekend Proudly South African” gevoel het dat “my hart skoon pyn!” Dit was die
gevoel van baie mense wat hierdie historiese geleentheid kon bywoon.
Gepubliceerd in de Netwerk24-kranten, 2 september 2015