donderdag 17 september 2015

Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse dagen

Suid-Afrikaanse kunstenaars skitter by Herman van Veen

Waarskynlik het niemand voor die tyd presies geweet hoe dit sou uitwerk nie. Maar tydens Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse dagen, ’n Afrikaanse en Nederlandse kultuurfees op Herman van Veen se landgoed in die bosse van Soest, het alles saamgewerk om die meer as duisend besoekers wat afgelope naweek hulle pad na De Paltz gevind het, ’n fantastiese ondervinding te gee.

In die eerste plek is De Paltz met sy 19e-eeuse herehuis, beukelanings en grasvelde ’n betowerende omgewing. En die weergode was genadig: heel naweek het die son stralend geskyn, en eers tien minute ná die laaste klanke weggesterf het, het ’n verskriklike onweersbui losgebars.

Maar die belangrikste was natuurlik die kunstenaars. Terwyl die program Vrydagaand en Saterdag hoofsaaklik uit Nederlandse produksies bestaan het, het die Suid-Afrikaanse kunstenaars van Saterdagaand af hulle opwagting gemaak. Een van die hoogtepunte van die Nederlandse deel van die program was ’n heropvoering deur Herman van Veen self van sy ikoniese kinderteatervoorstelling oor die dapper eend Alfred Jodocus Kwak, op die dag af 40 jaar ná hy dié karaktertjie op 29 Augustus 1976 vir die allereerste keer ten tonele gevoer het. Die gehoor was van voor af betower deur die pragtige taalgebruik en die uiters verfynde musikale verwerkings in hierdie oënskynlik so eenvoudige storie.

Ná ’n intieme optrede van die baie gewilde Nederlandse cabaretière Claudia de Breij het Luna Paige, Coenie de Villiers en Anna Davel Saterdagaand namens die Suid-Afrikaners die spits afgebyt. Al drie het hulle Nederlandse gehoor verstom met die skoonheid van hul taal en hul enorme talent. Coenie de Villiers, wat ’n interessante program gekies het vol verwysings na die Suid-Afrikaanse landskap, het getoon dat hy in die Suid-Afrikaanse musiek van dieselfde statuur is as Herman van Veen in Nederland.

Sondagmiddag het al die aanwesige kunstenaars eers ’n aantal van hulle gunsteling gedigte voorgelees, terwyl die besoekers sommer op stoeltjies in die lang gras onder die bome gesit het. Daarna het Andries Bezuidenhout – singer-songwriter, digter en beeldende kunstenaar, onder meer ook bekend as ‘Roof’ uit die Brixton Moord en Roof Orkes – party toeskouers in trane gehad met sy diep, poëtiese tekste en sy gevoelvolle en soms ironiese voordrag, en het Pops Mohamed – een van Suid-Afrika se 21 Icons – die gehoor laat kennismaak met die inheemse instrumente van die San uit die Kalahari, soos die kora en die duimklavier.

Tydens Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse dagen is ook …byvoorbeeld (Deel 1) bekendgestel, ’n versamel-cd bedoel om die Nederlandse luisteraars vertroud te maak met die rykdom en diepte van die Afrikaanse musiek. Al 20 kunstenaars op die cd was bereid om sonder vergoeding ’n opname af te staan vir hierdie projek. Die cd is verpak in ’n fraai uitgevoerde boekie met lirieke, toeligtings, ’n gedig van Herman van Veen en twee oorspronklike kunswerke van Diek Grobler buitenop. Die opbrengs van dié projek gaan na die Suid-Afrikaanse Teater Bystandsfonds.

Na ’n regte Suid-Afrikaanse vleisbraai was dit die beurt aan Joshua na die Reën – wat as ’n voltallige band die reis na Nederland gewaag het, inklusief twee jong babatjies. Dié simpatieke jong kunstenaars het die gehoor omver geblaas met hulle dromerige lirieke, interessante melodielyne en die energie van hulle opvoering.

Jannie du Toit het spesiaal deurnag gevlieg om aan die fees te kon deelneem. Terwyl Jaconell Mouton deurentyd daar was om die kunstenaars op die klavier te begelei, het Jannie du Toit ook enkele nommers saam met die blinde Nederlandse pianis Bert van den Brink gedoen, met wie hy in 2014 ’n Jules de Corte-program uitgevoer het, sowel in Nederland as in Suid-Afrika. Veral ‘Die liefde’, geskryf deur Christa Steyn, het die Nederlandse gehoor op sy voete gehad.

Die absolute finale was egter in hande van Karin Hougaard, wat saam met Herman van Veen die drywende krag agter hierdie fees was. Sy het nie sommer net ’n paar liedjies gesing nie. Sy het kragte gebundel met Jaconell Mouton én met Pops Mohamed, en haar veelsydigheid en volmaake vakvrouskap gewys as sangeres én aktrise.

Vir baie kunstenaars in Suid-Afrika, soos reg rondom die wêreld, het Herman van Veen in sy loopbaan van 50 jaar uitgegroei tot ’n voorbeeld en ’n inspirasie. Nou was dit die Suid-Afrikaners se beurt om te wys hoeveel talent en kwaliteit daar ook uit Suid-Afrika kom. Karin Hougaard het op haar Facebook geskryf dat sy vanaand “so ongekend Proudly South African” gevoel het dat “my hart skoon pyn!” Dit was die gevoel van baie mense wat hierdie historiese geleentheid kon bywoon.

Gepubliceerd in de Netwerk24-kranten, 2 september 2015