maandag 15 december 2014

Breytenbach en Afrikaans geëer in Gent

Op Woensdag 3 Desember het die digter Breyten Breytenbach ’n eredoktoraat ontvang van die Universiteit van Gent. Die plegtigheid is bygewoon deur ongeveer 250 skrywers en akademici en het groot aandag in die Belgiese media gekry.

Volgens prof. Anne De Paepe, rektor van die Universiteit van Gent, het Breytenbach dié onderskeiding gekry vanweë sy betekenis as digter en beeldende kunstenaar én vanweë sy moedige verset teen apartheid, ’n verset wat gekom het met groot persoonlike opoffering. Vir die universiteit is die toekenning ’n manier om sy maatskaplike en mondiale betrokkenheid, asook die spesiale plek wat die kontinent Afrika binne die universiteit se internasionaliseringsbeleid het, te onderstreep, aldus De Paepe. Die Gentse universiteit het vanaf die vroeë jare ’90 bande opgebou met ’n groot aantal Suid-Afrikaanse universiteite. Vóór Breyten Breytenbach het ook aartsbiskop Desmond Tutu (2005) en Graça Machel (2008) ’n Gentse eredoktoraat ontvang. In Oktober 2014 het die universiteit tewens die Nelson Mandela gedenklesingreeks ingestel; die eerste lesing in hierdie reeks is gelewer deur prof. Brian O’Connell, voormalige rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland.

Die feestelike toekenning van die eredoktoraat aan Breytenbach markeer tewens die oprigting van ’n nuwe instituut binne die fakulteit Lettere en Wysbegeerte in Gent, die ‘Gents centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika’. Hierdie instituut wil bestaande navorsings- en onderwysaktiwiteite met betrekking tot Suid-Afrika en Afrikaans aan die Gentse universiteit saambind en uitbou. Een van hierdie aktiwiteite is byvoorbeeld die jaarlikse Internationaal Seminarie Afrikaans, wat sedert 2011 in Gent gehou word.

In sy dankwoord het Breytenbach, wat ’n deel van sy toespraak in Nederlands gehou het, onder meer gesê hy aanvaar die eredoktoraat ‘met ootmoed en dank en namens my mede-Suid-Afrikaanse skrywers’. Oor die maatskaplike veranderinge in Suid-Afrika na 1994 het hy gesê ‘ons weet nog nie of dit endgame gaan wees of ’n nuwe begin nie’. ‘Ons familieverhaal kom van ver’, het hy oor die taalkundige bande tussen Suid-Afrika en die Lae Lande gesê, maar hy het onmiddellik ook erkenning gegee aan sy voorouers uit Madagaskar en die Verre Ooste. ‘Ons is kreools’, aldus Breytenbach, ‘ons taal is gebore in die Suidooste wind.’ Hy het sy bekommernis uitgespreek oor die toekoms van Afrikaans, en die belang aangestip van ’n internasionale wetenskaplike instelling soos die Gentse sentrum as ‘n ‘sanctuary’, ’n skuilplek vir Afrikaans. Tot besluit het Breytenbach twee gedigte voorgelees: ’n ode aan sy Suid-Afrikaanse leermeester Marthinus Versfeld en ’n eerbetoon aan die Vlaamse digter Eddy van Vliet, ’n goeie vriend van Breytenbach wat in 2002 dood is. Met die keuse van hierdie twee gedigte het Breytenbach sy posisie as brûebouer tussen Suid-Afrika en die Lae Lande en sy waardering vir albei treffend geïllustreer.

Nadat sy jarelange vriend en uitgewer Laurens van Krevelen enkele nuwe gedigte van Breytenbach in Nederlandse vertaling voorgedra het, het Adriaan van Dis die slottoespraak gelewer. Of liewer: hy het ’n deel van sy lofsang op Breyten letterlik gesing. ‘Breytenbach het my lewe verander’, aldus Van Dis, ‘en daarvan wil ik getuigen, halleluja!’ Dit was Breytenbach se gedig ‘My vrou’, waarin hy sy liefde vir Yolande besing het, wat Van Dis se belangstelling in die Afrikaanse literatuur wakker gemaak het. Van Dis het ook genoem dat ’n indrukwekkende ry van Nederlandstalige digters, soos Gerrit Kouwenaar, Remco Campert, Bernlef, Herman de Coninck, K. Michel en Esther Jansma, al gedigte aan Breytenbach gewy het of op ’n ander manier deur Breytenbach beïnvloed is.

Die oprigting van die Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika het verder gestalte gekry met ’n tweedaagse simposium oor Afrikaans en Suid-Afrika, ‘Die taal se stiltes’ (4 en 5 Desember). Die eerste dag was hoofsaaklik gewy aan taalpolitiek en geskiedenis, met bydraes van onder meer dr. Michael le Cordeur (‘Mandela se liefde vir Afrikaans’), prof. Wannie Carstens (‘Die toekoms van Afrikaans’), dr. Ineke van Kessel (‘Maatskappykritiek in die hedendaagse Afrikaanse letterkunde’), prof. Albert Grundlingh (‘Die impak van die Eerste Wêreldoorlog op Suid-Afrika’) en prof. Theresa Biberauer (‘Afrikaans as kreooltaal’). Die dag se lesings was van wisselende gehalte en hier en daar was daar ongerustheid oor die aangevoerde argumente. Hoewel die posisie van Afrikaans en kwessies rondom kreolisering, taalvariëteite en standaardisering spesifiek tot die belangstellingsgebied van die Gentse sentrum behoort, is dit die vraag of aktivistiese retoriek ook op ’n internasionale wetenskaplike platform tuishoort. Die tweede dag van die simposium het ’n meer tradisionele letterkundige karakter gehad, met gehaltelesings van onder meer prof. Louise Viljoen (die ‘duister gedig’ in Breytenbach se jongste poësie), prof. Ena Jansen (huiswerkers in die Afrikaanse literatuur) en Luc Renders (Karel Schoeman se Die uur van die engel).

Die oomblik waarop almal natuurlik gewag het, was Breytenbach se bydrae, ‘Van die os op die jas’. Tydens hierdie ‘causerie’ het Breytenbach twee stemme aan die woord gelaat: die ‘os’ (‘die vurige dromer’) en die ‘jas’ (‘die beleë wêreldreisiger’). Breytenbach het vooraf aangekondig dat hy, namate hy ouer word, al hoe meer wegbeweeg van direkte stellingnames en terugkeer na refleksie en persoonlike belydenis. Om te skryf, het Breytenbach onder meer gesê, beteken per definisie ‘vaslê’; dit is slegs ‘die vergestalting van beweging’. Hoewel dit vir die toehoorders moeilik was om die teks onmiddellik te deurgrond, het dit geklink asof Breytenbach al hoe meer die voorkeur gee aan ‘stil te word sodat die ruimte mag groei’. Gelukkig is hy ook nog altyd ‘versot op woorde’ en sal hy aanhou skryf, altyd op soek na ‘onderliggende waardes wat dalk nie aan tyd gemeet kan word nie’.

Nadat Charl-Pierre Naudé ’n paar van sy gedigte gelees het, het twee Gentse M-studente verslag gedoen van hulle navorsing, waarmee die nuwe sentrum bewys het daar is ’n lewendige belangstelling vir Afrikaans in Gent.

Breyten Breytenbach / Foto: Elize Zorgman

Dit verslag is geschreven in overleg met Netwerk24. Toen het stuk na tien dagen nog niet geplaatst was, heb ik besloten om het terug te trekken, aangezien ik mijn naam niet wil verbinden aan 'oud nieuws'.

Geen opmerkingen:

Een reactie posten